Die Universiteit Stellenbosch (US) nooi alle voornemende voorgraadse studente wat aan die vereistes voldoen uit om aansoek te doen om finansiële ondersteuning in 2026 deur middel van US-befondsingsgeleenthede (SUFO).
Stellenbosch, 1 Oktober 2025 – Die Universiteit Stellenbosch (US) nooi alle voornemende voorgraadse studente wat aan die vereistes voldoen uit om aansoek te doen om finansiële ondersteuning in 2026 deur middel van US-befondsingsgeleenthede (SUFO).
Die Sentrum vir Voorgraadse Beurse en Lenings (SVBL) moedig studente aan om vroeg aansoek te doen en te sorg dat alle dokumente wat vereis word, voor die sluitingsdatum ingedien is.
Aansoektydperke
- Ingeskrewe voorgraadse studente: Aansoeke het op 30 September 2025 gesluit.
- Voornemende voorgraadse studente: Aansoeke word vanaf 1 Oktober tot 30 November 2025 ontvang.
Befondsing word toegeken op grond van finansiële behoefte en akademiese meriete. Ons raai jou aan om op US Beurse en Lenings se webblad onder “Aansoekproses” te kyk. Dit sit die riglyne in besonderhede uiteen en verskaf ’n lys ondersteunende dokumente wat vereis word.
- As jy ’n ingeskrewe student is, kan jy die aansoekvorm met jou agtsyfer-US-studentenommer oopmaak.
- As jy ’n voornemende student is, moet jy met jou Suid-Afrikaanse ID-nommer of paspoortnommer op die aansoekportaal aanteken.
Die aanlyn aansoekproses is ontwerp om eenvoudig en toeganklik te wees. As jy alle dokumente vooraf gereed het, neem dit omtrent 15 minute om die proses af te handel.
“Ons sien daarna uit om aansoeke vir 2026 te ontvang en bly daartoe verbind om ons studente vir die volle duur van hulle akademiese reis by te staan,” sê mev Bianca Andrews, Hoof: Institusionele en Korporatiewe Fondse by die SVBL.
Die SVBL administreer ook beurse vanaf eksterne skenkers, waarvoor daar bykomende maatstawwe mag wees – soos leierskap, akademiese prestasie en finansiële behoeftigheid. As jy vir hierdie geleenthede wil in aanmerking kom, moet jy ’n bykomende vorm invul en oplaai wanneer die stelsel gedurende die SUFO-aansoekproses daarom vra. Jy kan ook om ’n US Gesinsbeurs aansoek doen as jy bewys van verwantskap kan lewer.
Let wel: Die US se fondse is beperk. Die blote feit dat jy ’n aansoek ingedien het, waarborg dus nie dat jy befondsing sal kry nie.
Meer inligting:
- Besoek die US Beurse en Lenings se webblad.
- Kontak US Kliëntediens by 021 808 9111.
- Teken ’n navraag via die US Dienstoonbank aan (navigeer na “Studentefinansies” en kies die toepaslike soort navraag).
Doen nou aansoek – dis die eerste stap om jou akademiese potensiaal te ontsluit.
