NSFAS is besig met ’n deurlopende nasionale proses om transaksies tussen NSFAS en instellings op studentevlak te versoen. Hierdie proses word die Closeout Project (afsluitingsprojek) genoem. Die proses is daarop gemik om probleme rakende studente se befondsingstatus en betalings in verband met vorige akademiese tydperke op te los. Die projek dek 26 universiteite en al 50 TBOO-kolleges (Bron: NSFAS mediaverklaring, 29.01.24).
Status van die Closeout Project:Duur voort
Hieronder volg ’n kort oorsig van die NSFAS Closeout Project om studente wat daardeur geraak word, te help om die proses en uitkomstydlyn te verstaan.
1. WAT IS DIE CLOSEOUT PROJECT? Die doel van die NSFAS DHOO Closeout Project is om niebetaling, onderbetaling of NSFAS-beursbefondsingsteenstrydighede van so ver terug as 2017 tot 2022 op te los. Die Closeout Project het studente geïdentifiseer wat vir befondsing gekwalifiseer het, maar vir wie die Universiteit – om verskillende redes – nooit die fondse van NSFAS af ontvang het nie. Die Universiteit is besig om die data te rekonsilieer sodat NSFAS die betaling wat aan die US verskuldig is, kan oorweeg.
Neem asseblief kennis dat dít ’n nasionale kwessie is en dat dit nie net die US is wat die Closeout Project administreer nie.
2. WATTER AKADEMIESE JARE WORD DEUR DIE CLOSEOUT PROJECT GERAAK? 2017 tot 2022.
3. HOEVEEL US-STUDENTE SE DATA WORD IN DIE CLOSEOUT PROJECT HERSIEN EN VERWERK? Meer as 3 000 studente oor ’n tydperk van vyf jaar.
4. WANNEER SAL DIE CLOSEOUT PROJECT NA VERWAGTING AFGEHANDEL WORD? Die proses is ingewikkeld, met ’n aansienlike hoeveelheid data wat deeglik hersien moet word, maar die Direkteur-Generaal en die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding het versoek dat die projek so gou moontlik afgehandel word.
5. WAT GEBEUR INTUSSEN MET DIE STUDENTEGELDEREKENING? Omdat die proses nog voortduur, sal die studenteskuld op die Studentegelderekening bly totdat die skuld betaal is. Die US het egter voorsiening en toegewings vir geaffekteerde studente gemaak sodat hulle vir hulle 2025-studieprogram kon registreer nadat NSFAS die US verseker het dat hulle die verskuldigde bedrag sal vereffen. Neem asseblief kennis dat dít nie beteken dat ál die skuld op die Studentegelderekening gedek is nie: Die Closeout Project dek slegs bywoningskoste soos deur NSFAS bepaal, insluitend toelaes soos uiteengesit in die NSFAS-riglyne vir die geaffekteerde jare. Dit sluit nie skuld in vir items soos klubledegelde, skootrekenaars, gimnasiumgelde, parkering en dies meer nie. Betaling hiervoor bly die student se verantwoordelikheid.
Neem asseblief kennis dat geen toelaes by die afhandeling van die projek terugwerkend na ’n student se persoonlike bankrekening oorbetaal sal word nie.
6. HOE WORD DIE UITSTAANDE SKULT BEPAAL? Elke student se situasie word individueel geassesseer omdat elke student se omstandighede in die Closeout Project verskil. Die beoordeling van die betaling van die uitstaande skuld behels byvoorbeeld die oorweging of: (i) daar uitstaande skuld is; (ii) die student in enige van die betrokke jare vir befondsing gekwalifiseer het; en (iii) die student vir befondsing in die volgende en enige daaropvolgende jare kwalifiseer. Die antwoorde op hierdie vrae bepaal die uitkoms van die skuld op die Studentegelderekening.
Sommige van die gelde is vir ’n bepaalde tydperk kwytgeskeld indien ’n student vir befondsing gekwalifiseer het. Indien ’n student egter nie vir NSFAS-befondsing gekwalifiseer het nie (byvoorbeeld weens nievoldoening aan die finansiële kriteria, en/of nievoldoening aan die akademiese kriteria, en/of nievoldoening aan die N+-reël), sal die student verantwoordelik wees daarvoor om die gelde te betaal wat op die Studentegelderekening verskuldig is. Dit is baie belangrik om op hierdie punt te let en dit te verstaan.
Enige koste wat nié deur die NSFAS-beurs gedek word nie, sal op die rekening verskuldig bly, selfs ná die afhandeling van die projek, en elke student sal aanspreeklik bly vir die bedrag.
7. WAT WORD VAN MY NSFAS-BEFONDSING VIR DAAROPVOLGENDE JARE? As jy ’n Closeout Project-student is, sal die skuld op jou Studentegelderekening bly totdat die proses afgehandel is, maar jy sal jou NSFAS-befondsing en -toelaes na gelang van jou geskiktheid ontvang.
8. EK HET UITSTAANDE SKULD VANAF 2017 (en kan dus nie my gradeplegtigheidsertifikaat ontvang nie). WAT NOU? Die US reik nie graadsertifikate uit aan studente met uitstaande skuld nie, ongeag die rede vir die skuld. ’n Voltooiingsbrief kan van Studenterekords aangevra word, maar die graadsertifikaat sal eers uitgereik word sodra die skuld vereffen is.
Die sertifikate van studente wat klaar gegradueer het, sal teruggehou word weens die uitstaande skuld totdat die Studentegelderekening ten volle vereffen is. Die US se skuldinvorderingspan sal moontlik die student/ouer(s) oor die uitstaande skuld op die rekening kontak; let asseblief daarop dat dít standaardprosedure is omdat die studenterekening die student se verantwoordelikheid bly.
9. KAN JULLE VIR MY ʼn IDEE GEE OF MY UITSTAANDE SKULD BETAAL SAL WORD OF NIE? Soos uiteengesit in vraag 6 hierbo, verskil elke student se situasie en word dit gevolglik individueel geassesseer op grond van die NSFAS-riglyne en -kriteria vir die jare wat deur die Closeout Project gedek word. As ’n riglyn, is daar twee moontlike uitkomste: jou skuld word vereffen of jou skuld word nie vereffen nie.
Hier is ’n voorbeeld van ’n situasie waar die skuld waarskynlik vereffen sal word: Die student het in 2018 as ’n eerstejaar- voorgraadse student vir ’n driejaarstudieprogram geregistreer. In daardie stadium het NSFAS die N+2-reël gevolg. Die student het die program binne die drie jaar voltooi en het vir die volle driejaartydperk finansieel en akademies gekwalifiseer, so die skuld sal waarskynlik vereffen word.
Hier is ’n voorbeeld van ’n situasie waar die skuld waarskynlik nie vereffen sal word nie: Die student het in 2018 as ’n eerstejaar- voorgraadse student vir ’n driejaarstudieprogram geregistreer. In 2018 is die N+2 reël gevolg (wat die student toelaat om hulle graad oor ’n tydperk van vyf jaar te voltooi). Die student het hulle studies in vyf jaar voltooi, maar omdat die N+-reël in 2019 na N+1 (slegs een ekstra jaar) verander het, het die student nie in hulle vyfde studiejaar (om die driejaargraad te voltooi) vir NSFAS-befondsing gekwalifiseer nie. Met ander woorde, die student is van 2018 tot 2021 (vier jaar) befonds, maar in 2022 het die student nie vir befondsing gekwalifiseer nie omdat hulle die N+1-reël oorskry het. NSFAS het vir 2018, 2019, 2020 en 2021 betaal. In hierdie geval sal die 2022-skuld waarskynlik nie vereffen word nie.
BELANGRIK Daar is uitsonderings op die bogenoemde voorbeelde, maar dit gee jou hopelik ’n idee van waar jy val en of jy moontlik ander befondsingsopsies moet oorweeg om jou studenteskuld te betaal.
10. WIE KAN EK KONTAK OM OOR DIE UITSTAANDE SKULD OP TE VOLG? Wees verseker dat die SVBL deeglik bewus is van elke student wat deur hierdie proses geraak word. Ons versoek dat jy tot die einde van die jaar vir uitsluitsel wag. Ons verstaan dat dit frustrerend kan wees. Soos ons hierbo genoem het, is toegewings gemaak vir studente om te registreer, al het hulle skuld op hulle Studentegelderekening.
Ons sal jou hier op die Kennisgewingbord op ’n kwartaallikse basis, of soos en wanneer ons terugvoer van NSFAS ontvang, op hoogte van die jongste nuus hou. Ons sal ook e-posse na jou @sun-adres stuur. Gaan asseblief jou e-posse gereeld na en maak seker dat daar geen boodskappe in jou gemorspos is nie.
11. HOE SAL EK WEET WANNEER DIE CLOSEOUT PROJECT AFGEHANDEL IS? Die SVBL sal elke student per e-pos by hulle @sun-adres in kennis stel. Ons verwag dat dit aan die einde van 2025 sal wees.