Any funding or bursary questions? Please call Student Finances Client Service team on 021 808 3530 or ’n versoek on our service desk portal.

Beurs befondsing opsies

Merietetoekennings

Toekennings vir uitnemendheid (vir eerstejaarstudente)

Die Universiteit Stellenbosch (US) identifiseer studente wat tot die instelling se goed gevestigde kernfunksies van navorsing en innovasie, leer en onderrig, en sosiale impak sal bydra. Die Universiteit skep betroubare en relevante kennis, ontwikkel menslike potensiaal, en smee sinvolle vennootskappe met die res van die samelewing. Dit alles maak van die US ’n juweel in die kroon van die hoër onderwys in Suid-Afrika, en ons is verheug en trots dat topleerders by ons as ‘Maties’ aansluit.

Toekennings vir uitnemendheid word uitsluitlik op grond van skolastiese of akademiese prestasie toegeken en nie op grond van finansiële behoefte nie. Daar is geen aansoekproses nie aangesien die finale graad 12 akademiese uitslae outomaties deur ’n rekenaar saamgestel word en ontvangers volgens die akademiese kriteria van elke merietetoekenningskategorie geïdentifiseer word.

Prestasietoekennings

a) Visekanselierstoekenning

Die Visekanselierstoekenning word toegewys ter erkenning van matrikulante se voortreflike finale graad 12- akademiese uitslae.

Kandidate wat vir die Visekanselierstoekenning oorweeg sal word, is toppresteerders wat uitgeblink het in die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS), Onafhanklike Eksamenraad (IEB), Cambridge, en ander internasionale eksamens wat deur die US erken word – en wat ʼn finale aanbod ontvang het om vir ʼn voorgraadse kwalifikasie te studeer.

Vyftien (15) toekennings sal gemaak word.

ʼn Keurkomitee bestaande uit verteenwoordigers van Studentewerwing en die Sentrum vir voorgraadse Beurse & Lenings (SVBL) sal geselekteerde bekroondes voorlê vir goedkeuring deur die voorsitter van die Komitee vir Beurse & Lenings (KBL).

Ontvangers van die Visekanselierstoekenning sal korrespondensie van die US ontvang nadat die eksamenraad se uitslae bekend gemaak is en finale toelatingsaanbiedings gemaak is. Die waarde van die toekenning beloop R100 000 en dit is ’n eenmalige toekenning aan die Studentegelderekening.

b) Presteerdertoekenning

Die Presteerdertoekenning word toegewys ter erkenning van die voortreflike graad 12- akademiese uitslae van 20 geregistreerde eerstejaarstudente. Die volgende kandidate sal vir hierdie toekenning oorweeg word:

  • Kategorie 1: die toptieneerstejaarstudente wat aan die US ingeskryf is en uitgeblink het in die NSS, IEB, Cambridge, of ander internasionale eksamens wat deur die US erken word
  • Kategorie 2: die toptieneerstejaarstudente wat aan die US ingeskryf is en wat ’n skool in kwintiel 1 tot 4 (soos geklassifiseer deur die Departement van Basiese Onderwys) bygewoon het en die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) geslaag het. Indien enige van die toptienkandidate van ’n skool in kwintiel 1 tot 4 in aanmerking kom vir óf die Visekanselierstoekenning óf kategorie 1-Presteerdertoekenning, sal die volgende kandidaat op die ranglys oorweeg word.

Ontvangers van die Presteerdertoekenning sal korrespondensie van die US ontvang nadat die eksamenraad se uitslae bekend gemaak is. Die waarde van die toekenning beloop R75 000 en dit is ’n eenmalige toekenning aan die Studentegelderekening.

Merietetoekennings

c) Voortreflikheidstoekenning

Die Voortreflikheidstoekenning word per fakulteit toegewys aan die top 1 tot 5% geregistreerde eerstejaarstudente wat vir die eerste keer ingeskryf het.

Die waarde van die toekenning beloop R25 000 en dit is ’n eenmalige toekenning aan die Studentegelderekening.

d) Toegangstoekenning

Die Toegangstoekenning word toegewys aan alle geregistreerde eerstejaarstudente wat ’n skool in kwintiel 1 tot 4 (soos geklassifiseer deur die Departement van Basiese Onderwys) bygewoon het en die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) geslaag het en ’n gemiddeld van meer as 80% in graad 12 behaal het. Die waarde van die toekenning is op ’n glyskaal gegrond en dit is ’n eenmalige toekenning aan die Studentegelderekening:

  • ’n gemiddeld van meer as 80% maar minder as 85%: R5 000
  • ’n gemiddeld van meer as 85% maar minder as 90%: R7 500
  • ’n gemiddeld van meer as 90%: R10 000

Belangrike nota Die gemiddeld wat gebruik word in die toewysing van Voortreflikheids- en Toegangstoekennings is gegrond op die berekening soos uiteengesit in die Universiteit se toelatingsbeleid.

Ontvangers van die Voortreflikheids- of Toegangstoekenning sal korrespondensie van die US ontvang nadat die eksamenraad se uitslae bekend gemaak is en fakulteitregistrasies afgehandel is.

Opsomming van die voorwaardes vir ’n toekenning vir uitnemendheid

  1. Die toekenning is slegs beskikbaar vir Suid-Afrikaanse burgers en studente met permanente inwonerstatus.
  2. ʼn Ontvanger moet aan die Universiteit Stellenbosch geregistreer wees vir hulle eerste studiejaar.
  3. Registrasie aan die Universiteit Stellenbosch moet ook die studente se eerste registrasie aan ’n hoëronderwysinstelling wees.
  4. Die finale graad 12-uitslae is van toepassing. ’n Hernasiening sal nie oorweeg word nie.
  5. ʼn Ontvanger van die toekenning moet graad 12 (matriek) nie meer as twee jaar voor die eerste studiejaar geslaag het nie.
  6. Die toekenning is ’n eenmalige toekenning aan die Studentegelderekening in die eerste studiejaar. Verwys na die afdeling vir bykomende aantekeninge ten opsigte van ’n kredietsaldo.
  7. Indien ’n student voor die einde van die eerste semester deregistreer, sal die volle toekenning verbeur word. Indien ’n student in die loop van die tweede semester deregistreer, sal 50% van die toekenning verbeur word.
  8. ʼn Ontvanger wie se ouer(s) vir die US se personeelkorting op klasgeld kwalifiseer, sal ’n proporsionele persentasie van die toekenning ontvang.

Senior Merietetoekenning (vir seniorjaarstudente)

ʼn Senior Merietetoekenning word toegeken aan die top 5% van senior studentepresteerders per fakulteit op voorwaarde dat ʼn kandidaat ʼn geweegde total van minstens 75% in hul vorige akademiese jaar behaal.

Die Senior Merietetoekenning word bereken as ʼn persentasie van klasgelde, module- en programkoste uitgesluit. Na registrasie en sodra uitslae bekend gemaak is, word die toekenning programmaties bereken. Die berekende bedrag word dan outomaties na die ontvanger se Studentegeldrekening oorgeplaas. Kwalifiserende studente ontvang ʼn korting* (afslag) van tot 20% op hul basiese studiegeld.

Neem asseblief kennis dat die persentasie toppresteerders per fakulteit aangepas kan word onderhewig aan die beskikbare begroting vir US-beurse.

*Die korting sluit module- en/of programkoste uit en dit dek nie ander uitgawes soos handboeke, verblyf, maaltye, en vervoer nie.

Ontvangers van die Senior Merietetoekenning sal korrespondensie van die US ontvang nadat fakulteitregistrasies afgehandel is.

Opsomming van die voorwaardes vir ’n Senior Merietetoekenning

  1. ʼn Ontvanger moet aan die Universiteit Stellenbosch geregistreer wees vir hulle voorgraadse senior studiejaar.
  2. Die toekenning is slegs op een studiejaar van toepassing en kan nie na ’n volgende studiejaar oorgedra word nie. Verwys na die afdeling vir bykomende aantekeninge ten opsigte van ’n kredietsaldo.
  3. Indien ’n student voor die einde van die eerste semester deregistreer, sal die volle toekenning verbeur word. Indien ’n student in die loop van die tweede semester deregistreer, sal 50% van die toekenning verbeur word.
  4. ʼn Ontvanger wie se ouer(s) vir die US se personeelkorting op klasgeld kwalifiseer, sal ’n proporsionele persentasie van die toekenning ontvang.

Belangrike bykomende aantekeninge: Toekennings vir uitnemendheid en Senior Merietetoekenning

  • ’n Voortreflikheidstoekenning of ’n Toegangstoekenning kan nie saam met ’n Visekanselierstoekenning of ’n Presteerdertoekenning toegeken word nie. ’n Student wat ’n Voortreflikheidstoekenning ontvang, kan egter ook ’n Toegangstoekenning ontvang en andersom.
  • Die toekenning sal eers die Studentegelderekening vereffen. Indien ’n toekenning vir uitnemendheid ’n kredietsaldo aan die einde van ’n akademiese jaar veroorsaak, kan die krediet oorgedra word na die volgende akademiese jaar waarvoor die student registreer.

    Daarbenewens, slegs met betrekking tot die Visekanseliertoekenning, die Presteerdertoekenning en Senior Merietetoekenning, kan enige beskikbare krediet na vereffening van die Studentegelderekening vir toelaaguitbetalings aangewend word – soos verblyf, maaltye, handboeke en vervoer in verband met die student se omstandighede en verblyfsreëlings – of aan die student oorbetaal word.
    Daarbenewens, slegs met betrekking tot die Voortreflikheidstoekenning en die Toegangstoekenning, kan enige beskikbare krediet na vereffening van die Studentegelderekening vir toelaaguitbetalings aangewend word – soos verblyf, maaltye, handboeke en vervoer in verband met die student se omstandighede en verblyfsreëlings.

  • Alle voorgraadse toekennings vir uitnemendheid en die Senior Merietetoekenning kan saam met ander beurse of beurskombinasies toegeken word, onderhewig aan die beursgewer of befondser se voorwaardes.
  • Die Universiteit behou die reg om ’n toekenning te kanselleer sou daar bepaal word dat ’n student enige van die inligting verdraai het wat as kriteria gebruik word om vir ’n voorgraadse toekenning vir uitnemendheid te kwalifiseer.

Wanneer word gelde uitbetaal?

’n Voorgraadse toekenning vir uitnemendheid of Senior Merietetoekenning sal nie later nie as die Juniestaat op jou Studentegelderekening weergegee word.

Die terugbetalingsproses

Geen kontantterugbetalings sal uitbetaal word nie Die US Jaarboekdeel enigste uitsondering op gelde wat uitbetaal word, is as jou rekening reeds ten volle vereffen is voor ontvangs van die UGEA of SMA en daar ’n krediet op die rekening is. Stuur asseblief in hierdie geval ’n e-pos aan die SVBL om die bankvorm aan te vra en om bewys te voorsien dat jou ouer/wettige voog die rekening betaal het. Die korting sal daarna as ’n krediet op jou Studentegelderekening weergegee word en gelde sal vanaf Augustus uitbetaal word.

Kontak ons

Enige vrae oor befondsing of beurse?

Teken asseblief ’n versoek op ons dienstoonbank se portaal aan. Ons kan jou flink en doelgerig help as jy jou US-studentenommer en ’n duidelike beskrywing van die kwessie insluit en die toepaslike kategorie aandui wanneer jy jou versoek indien.

Andersins kan jy gerus Studentefinansiering se klientediensspan bel: 021 808 3530. Wanneer die stelsel jou vra, kies 2 vir bystand in Afrikaans of 1 vir Engels. Hou asseblief in gedagte dat ons ’n groot aantal oproepe ontvang, veral in die besige tydperke, wat kan veroorsaak dat jy langer moet aanhou. Ons waardeer jou geduld en moedig jou aan om die dienstoonbankportaal te gebruik.

Om ’n versoek op die dienstoonbankportaal aan te teken, doen die volgende:

    1. Besoek die dienstoonbankportaal deur “Stellenbosch University Service Desk” in jou webblaaier in te voer of hier te klik.
    2. Teken aan met jou US-besonderhede. As jy nie ’n US-profiel het nie, skep ’n nuwe rekening met ’n geldige e-posadres en ’n wagwoord.
    3. Navigeer na Student Finances (Studentefinansiering) en kies Student Fees (Studentegelde) of Undergraduate Bursaries (voorgraadse beurse).
    4. Vul die navraagvorm in deur jou probleem duidelik te beskryf. Verskaf jou US-studentenommer en heg enige stawende dokumente aan as dit tersaaklik is. Klik dan op Create (skep) om jou aansoek in te dien. Ons stuur vir jou ’n e-pos om te bevestig dat jou aansoek ingedien is.

    Stellenboschkampus

    Fisiese adres

    Admin A-gebou, Ryneveldstraat, Stellenbosch 7600

    Let asseblief op: Admin A-dienste het tydelik, tot in 2026, na die Anorganiese Chemie-gebou verhuis vir groot opknappingswerk wat beoog om ’n meer inklusiewe, studentgerigte ruimte te skep. Ons waardeer julle begrip en geduld in hierdie tydperk.

    Kantoorure

    Maandag tot Vrydag 08:00-16:30

    +27 21 808 3530

    Tygerbergkampus

    Fisiese adres

    Kliniese Gebou, Francie van Zijl-rylaan, Tygerberg 7505

    Kantoorure

    Maandag tot Vrydag 08:00-16:30

    +27 21 808 3530